Nonnapot
Om iets van niks te maak of om dit wat stukkend is heel te maak is een van die groot kreatiewe lekkertes vir my.
Net die gedagte dat 'n eens geliefde bord of teekoppie wat in stukke op die ashoop beland het (dalk al 'n 100 jaar terug!) in 'n nuwe baadjie (in dié geval heel moontlik op 'n baadjie) weer mooi en bruikbaar kan wees maak my baie opgewonde!
Die Japanese kunsvorm Kintsukuroi (“To repair with gold. Understanding that a piece is more beautiful for having been broken”) is ongelooflik mooi en inspirerend. Hulle gebruik gesmelte goud om die stukke van gebreekte erdeware weer aanmekaar te sit. Die gebreekte pot is selfs nog mooier as wat dit was na dit weer heelgemaak is. Die krake laat lig deur as 'n kersie in die pot gesit word!
Dit gee my soveel hoop dat ons menslike gebrokenheid ook genees kan word en nie net heel kan word nie maar ook mooi!
My ma het die spesifieke stukkies wat ek gebruik om die Nonnapotjies te maak op 'n plaas in die Karoo opgetel. Die stap in die veld en stukkies optel is iets wat vreeslik lekker is vir haar.
Ek gebruik dieselfe tegnieke en materiale wat vir loodglasvensters gebruik word om die Nonnapotte te maak. Vir lank het ek gedink hulle is nie goed genoeg om verkoop te word in hul gesoldeerde (loodvrye metaal) formaat nie…tot ek besef het dat dit is hoe hulle moet wees om die simboliese boodskappie te dra dat hulle goed genoeg is nes hulle is. Net soos elke vrou wat dalk een sal dra moet weet dat sy ook MEER AS GENOEG is! Net soos sy is!!
Ek gebruik die stukkies nes hulle opgetel is en breek hulle nie weer nie. Ek geniet dit so baie om hul byna soos legkaart stukkies uit te soek en te sien wat hulle dalk kan wees. Handsakkie...teekoppie...seilbootjie of singer-naaimasjientjie!
Elke Nonnapot is uniek!
Nonnapot?? Nonnapot is 'n saamgeflansde troetel woordjie wat ek al jare gebruik veral vir klein dogtertjies...my eie dogter noem ek ook soms Nonnapot of Blompot. Ek hou van ons taal se mooi woorde soos nonna...ounooi...nooi ...nooientjie en my Daisy-hond is sommer Ouvrou ook!
Lank na ek die naam Nonnapot vir my handwerkies gegee het... deursoek ek toe die internet om te sien wat bestaan met die naam Nonnapot en wraggies spring daar 'n oulike ding in Hongaars uit. Boldog Nönapot...wat beteken Gelukkige Vrouedag!!!